’n Herkouer is ’n wonderlike skepsel wat basies enige vorm van verteerbare voer kan opbreek in nuttige voedingstowwe. Dit is egter so dat beter gehalte, maklik verteerbare voer beter resultate lewer.
Lusernhooi is een van die belangrikste hooigewasse in Suid-Afrika en word vir verskillende tipes vee, maar veral melkbeeste, gebruik. Die gehalte van lusernhooi word deur faktore soos variasie in klimaat, grond, bemesting, water, snystadium en veral die hooimaakproses beïnvloed.
Hoewel baie van hierdie faktore bydra tot die sigwaarde van die gebaalde hooi, soos die kleur en hoeveelheid blare, is die voedingswaarde, wat die ware gehalte van die produk weerspieël, nie altyd met die blote oog waarneembaar nie.
Variasie in gehalte
In ’n studie wat deur dr Gerrie Scholtz aan die Universiteit van die Vrystaat gedoen is, is ’n beduidende variasie in chemiese
samestelling van Suid-Afrikaanse lusernhooi gevind. Vergelykings is getref tussen die chemiese samestelling van verskillende lusernhooimonsters en melkproduksie, en daar is gevind dat die suurbestande vesel (ADF), as- en lignienpersentasies van lusernhooi, die beste met melkproduksie korreleer.
’n Kombinasie van hierdie drie faktore verbeter die korrelasie tussen die chemiese samestelling van lusernhooi en melkproduksie tot ’n rand-per-vierkante-meter waarde van 0,96. Dit is interessant dat die proteïeninhoud van lusern nog altyd as die belangrikste gehalte-maatstaf beskou is, maar die navorsing het bevind dat vesel, en meer spesifiek verteerbaarheid van vesel, ’n belangriker gehalte-aspek is. Hierdie navorsing het gelei tot die ontwikkeling van ’n graderingstelsel vir lusernhooi wat deur die Nasionale Luserntrust (NLT) beheer word en waar lusernhooi volgens die Nuwe Lusern Kwaliteitsindeks (NLKI) geklassifiseer word.
Gradering van lusernhooi
Lusernhooi word gegradeer deur middel van naby-infrarooi spektroskopie (NIRS), wat ’n chemiese analise van die monster neem, en daarvolgens word die NLKI opgestel op grond van die as-, ADF- en lignienwaardes. Ander parameters soos proteïen, NDF en vog word ook baie akkuraat deur die NIRS-instrument voorspel.
Die verskillende grade en beskrywings word in Tabel 1 aangedui.
Graderingstelsels beskerm die bedryf, produsent en verbruiker. In die konteks van lusernhooi verskil dit nie veel nie. ’n Produsent wat goeie gehalte lusernhooi produseer, wil graag beloon word vir sy goeie produksiepraktyke. Aan die ander kant verwag die koper van lusernhooi waarde vir die geld wat hy bestee het, en het uit ondervinding al agtergekom dat die gehalte van lusernhooi kan wissel.
Dit is belangrik om daarop te let dat alle grade lusernhooi ’n plek in die mark het, indien dit reg aangewend word. By melkbeeste word prima-graad aanbeveel vir jong kalwers (twee tot drie maande) en ’n mengsel saam met graad 2 vir lakterende koeie. Graad 1 is geskik vir hoogproduserende melkbeeste, terwyl graad 3 glad nie vir produserende koeie geskik is nie, maar wel as onderhoudshooi aangewend kan word.
Invloed van graadverskille
Gehalte en prys loop hand aan hand en goeie gehalte voer kom gewoonlik teen ’n hoër prys. Dit is egter belangrik om die prysverskil van verskillende grade lusernhooi teen die verskil in produksie op te weeg. Die produksiepotensiaal van lusern kan gevolglik baie akkuraat gemeet word met hierdie graderingstelsel.
Dr Scholtz se navorsing het getoon dat die gehalte van lusern ten opsigte van verteerbare energie en proteïen die melkproduksie van Holstein-koeie tussen 35,7 en 48,7 liter per dag kan laat wissel. Dit is stawende bewys dat die variasie in lusernhooi-gehalte baie groot is en dus
produksievlakke en inkomste beduidend kan beïnvloed.
Ten slotte
Lusernhooi is ’n baie groot gedeelte van ’n melkprodusent, asook ander veeprodusente, se voerrekening. Die navorsingsresultate, wat stawende bewys van die variasie in lusernhooi-gehalte en die variasie in produksie as gevolg hiervan is, behoort enige koper van lusernhooi aan te moedig om aan te dring op ’n graderingsertifikaat as bewys van gehalte. VP
Vir meer inligting, kontak dr Gerrie