Lusernhooi (Medicago Sativa L.) is een van die mees belangrikste hooigewasse vir herkouers en veral melkbeeste in Suid-Afrika. Behalwe die energie- en proteinbydrae wat lusernhooi tot ‘n rantsoen maak, beskik dit ook oor unieke eienskappe soos natuurlike buffervermoe, fermenteer vinnig, medisinale waarde in die vorm van anti-oksidante en ‘n ryk mineraleprofiel. Verder dra dit by tot die verteerbaarheid en deurvloeitempo van die totale rantsoen, en gevolglik die droematerialinname en melkproduksie van koeie. Hierdie verhoging in inname en produksie sal egter grootliks afhang van die kwaliteit van lusernhooi.
Lusernhooikwaliteit word deur verskeie faktore soos lokaliteit, klimaat, grond, bemesting, water, snystadium, kultivarverskille, voginhoud, blaarverlies, opberging, vervoer, siektes, insekte, en onkruid beinvloed. Die invloed van hierdie faktore op die variasie van lusernhooikwaliteit in Suid-Afrika is duidelik waarneembaar vanaf die resultate van ‘n studie (Tabel 1) wat aan die Universiteit van die Vrystaat uitgevoer is. Hierdie variasie beklemtoon die behoefte aan ‘n akkurate en eenvormige kwaliteitsbepaling en/of graderingstelsel vir lusernhooi in die praktyk.