24 | 09 | 2017

 

Vreemde materiaal en muf verlaag kwaliteit van lusernhooi PDF Print E-mail

Prof. HJ van der Merwe en Dr. GDJ Scholtz

Nasionale Lusern Trust, Oudtshoorn

Die bepaling van die kwaliteit van lusernhooi volgens die Nasionale Lusern Trust- graderingskema (NLT-skema) sluit in:

a) verteenwoordigende monsterneming van ‘n vrag lusernhooi,

b) ontleding van die monster met ‘n Naby- infrarooispektrofotometer (NIRS),

c) berekening van die Nuwe lusernkwaliteitsindeks (NKLI) vanaf die ontledings,

d) gradering van die lusernhooi volgens kwaliteitstandaarde.

Volgens Tabel 1 sluit die kwaliteitstandaarde die gemete en berekende NKLI en sekere subjektiewe maatstawe in soos vreemde materiaal, skadelike plante en onkruide asook die voorkoms van muf. Die graad word dus nie net bepaal deur gemete eienskappe (NKLI) nie, maar ook subjektiewe maatstawe en moet die produsent daarvan kennis dra.

Tabel 1. Kwaliteitstandaarde –Nuwe lusenskwaliteitsindeks (NLKI) (GDJ Scholtz & HJ van der Merwe, 2010)

 

Graad/ klas

NLKI1

Vreemde materiaal (%)

Prima

104 en hoer

Afwesig

1

97 - 103

Afwesig

2

93 - 96

Aanwesig

3

92 en minder

Aanwesig

1 = Nuwe lusernkwaliteitsindeks (NLKI).

Ø Maksimum vog toegelaat om muf en verhitting te verhoed en soos bepaal deur 'n NIR instrument = 16%

Ø Vragte met skadelike plante en geproklameerde onkruide moet teruggestuur word (Foto 1)

Ø Vragte met vreemde reuke, muf en tekens van oormatige verhitting kan afgradeer of teruggestuur word

Indien vragte ooglopend as gemengde kwaliteit geidentifiseer word sal as die swakste graad op die vrag geklassifiseer word.

Dit is in die eerste plek belangrik om te verseker dat daar nie vreemde materiaal soos gras in die lusernland teenwoordig is nie. Vanaf Tabel 1 is dit duidelik dat die hoogste grade lusernhooi nl. Prima en Graad 1 geen vreemde materiaal mag bevat nie, om afgradering te verhoed. Lusernhooi wat skadelike plante en onkruide bevat soos in Foto 1 aangedui, word teruggestuur met die ongerief wat daarmee gepaard gaan.

Verder blyk dit vanaf Tabel 1 dat lusernhooi met muf afgradeer of teruggestuur moet word. Om die voorkoms van muf te verhoed, word ‘n maksimum voginhoud van 16% (Tabel 1) toegelaat soos met die NIR-instrument bepaal. Dit is egter nie net die voginhoud wat die voorkoms van muf beïnvloed nie, maar ook faktore soos baaldigtheid, temperatuur en die suikerinhoud van lusernhooi. Afhangende van hierdie faktore kan die volgende tipes muf onderskei word.

Wit muf kom voor wanneer lusernhooi met 16 tot 18% vog en ‘n lae baaldigtheid gestoor word. In hierdie omgewing kom aerobiese fermentasie voor wat temperature van 47 tot 52 °C veroorsaak. Dit gaan met verlaagde inname en mikotoksiene gepaard wat onder andere aborsies kan veroorsaak.

Karamelisering van lusernhooi wat deur bruin muf gekenmerk word, kom by lusernhooi met ‘ n hoë baaldigtheid en hoër voginhoud van 20 tot 25% voor. In die geval kom anaerobiese fermentasie voor wat hoër temperature van 55 tot 60 °C veroorsaak. Gekarameliseerde lusernhooi het ‘n smaaklike reuk en sal inname nie verlaag nie. Die hoë temperature verlaag egter die verteerbaarheid van ruproteïen en koolhidrate.

Onder soortgelyke omstandighede as karameliseer, kan bottersuur (bruin) in die lusern geproduseer word. Dit geskied vanweë ‘n te lae suikerinhoud in die lusern. Indien die suikerinhoud voldoende is, kan melksuur gevorm word wat die pH na 4.2 sal laat daal, en die plantmateriaal dan bewaar. In die geval van ‘n te lae suikerinhoud, vind bottersuurfermentasie (klostridiumtipe) plaas wat met ‘n pH hoër as 5 en ‘n slegte galsterige bottersuurreuk gepaard gaan.

Laastens kan ‘n swart muf in lusernhooi gevorm word. Dit geskied ook onder dieselfde omstandighede as karameliseer, maar ‘n temperatuur hoër as 66 °C word bereik. Sulke lusernhooi het ‘n tipiese tabakreuk en is onsmaaklik. Verder gaan dit met ‘n verlaagde verteerbaarheid van ruproteïen en koolhidrate gepaard.

Dit is belangrik dat die lusernprodusent op hoogte is met die omstandighede wat tot ‘n spesifieke tipe muf lei en maatreëls tref om dit te verhoed. Dit is egter duidelik dat die voginhoud van die lusern van kardinale belang is en moet dit nie 16% oorskry nie, inaggenome die digtheid van die baal. ‘n Te lae voginhoud gaan egter met blaarverliese tydens die hooimaakproses gepaard en is dit belangrik om ‘n balans tussen blaarverliese en voorkoms van muf te handhaaf.

(Prof HJ van der Merwe is ‘n emeritus professor en Dr GDJ Scholtz ‘n lektor van die Departement Vee-, Wild- en Weidingkunde aan die Universiteit van die Vrystaat)

 

Who's Online

We have 27 guests online

Advertising Rates

Banner